Portrait of Neale Donald Walsch, author of 'conversations with God' (left), and Gil Dekel, PhD (Right). Drawn by © Natalie Dekel, 2010.

Neale Donald Walsch (links), skrywer van ‘Gesprekke met God’ en Gil Dekel (regs). Geteken vanaf twee foto’s deur © Natalie Dekel.

Gil Dekel: Baie mense lees jou boeke en gaan doen dan iets positiefs … mense sit nie eenvoudig net die boeke terug op die rak nie. Hoe voel dit om ‘n man te wees wat miljoene inspireer tot aksie?

Neale Donald Walsch: Ek voel nie dat ek dit gedoen het nie, ek voel dat God dit gedoen het  … Ek is nie oormatig beskeie nie, en ek probeer nie om myself aan te bied op ‘n kunsmatig nederige manier nie. Ek bedoel dit opreg. Ek voel nie asof dit ek is wat miljoene mense geïnspireer het nie, maar ek is baie bewus daarvan dat die woorde wat God deur my spreek het miljoene mense geïnspireer het. Ek is baie dankbaar dat ek ‘n rol hierin kon speel, en dat ek ‘n dienskneg kon wees wat op ‘n manier in ‘n sekere oomblik van tyd dinge kon oproer, om sodoende ‘n bydrae te  lewer in hierdie proses van ontwaking.

Gil Dekel: Kan ek ‘n vreemde vraag vra? Wat is die nadele van kommunikasie met God?…

Neale Donald Walsch: Dit is ‘n interessante vraag … Ek het geen nadele ervaar nie. Dit was ‘n seën reg van die begin af tot en met hierdie oomblik. Ek het baie min negatiewe reaksie ontvang op wat ek gedeel het met hierdie wêreld. Ek is nie aangeval is nie, behalwe vir in woorde deur ‘n opvallend klein hoeveelheid mense. Daar was sover nog net wonderlike gevolge in my eie lewe. My lewe is meer vreugdevol en vervuld as gevolg van hierdie ondervinding as wat enigiemand ooit kon raai.

Wat is jou ervaring van God?

Hy is sag, warm, liefdevol, ontfermend, vol deernis, vrygewig, geduldig, begrypend, volkome aanvaardend, omhelsend, en verwag niks terug nie. ‘n Entiteit wat niks behalwe die heel beste vir my wil hê nie, wat bereid is om my met die energie, wysheid en mag van goddelikheid te onderskraag wanneer ek smag na ‘n ervaring van die hoogste ideaal wat ek nog ooit vir myself gehad het, in verhouding tot die lewe en in verhouding tot ander mense in die lewe.

God voel vir my soos die beste vriend wat ek nog ooit gehad het, die mees behulpsame en vrygewigste maat wat ek ooit kan kry.  Die mees insiggewende en wyste raadgewer wat ek ooit kon hoop om te vind. Dit is hoe God vir my voel, soos ‘n alomteenwoordige energie wat my geheel en al bemagtig, en ‘n deurlopende gawe in elke oomblik van my lewe is.

Soft Flowers - by © Gil Dekel

“Sag, warm, liefdevol, ontfermd, vol deernis, vrygewig, geduldig, begrypend...” (Foto: ‘Sagte blomme’ – deur © Gil Dekel)

Het God verander oor die jare?

Wel, dit is soos om te vra of iemand wat jy nog nie lank ken nie verander het oor die jare…  Ek het God nooit regtig geken tot nou onlangs toe nie.  Ek het gedink ek het, maar dit was inderwaarheid ‘n valse god, ‘n onakkurate en beperkte god.  Ek het God eers werklik leer ken nadat my “Gesprekke met God”-ondervinding begin het.

Ek kan dus nie werklik vir jou sê of God verander het volgens my nie, aangesien ek God eers leer ken het toe die gesprek ongeveer veertien jaar gelede tussen ons begin het. Voor dit was die God wat ek geken het nie die werklike God nie, maar eerder die God wat ons onself verbeel het, wat natuurlik heeltemal iets anders is.

Waarom sou God woorde gebruik om deur jou te ‘skryf’ eerder as beelde en gevoelens?

Dis ‘n goeie vraag. Ek weet nie. Ek dink nie dat God tot woorde beperk is nie.  Ek dink God gebruik wel ook beelde en gevoelens. God gebruik musiek en alles wat ons om ons sien: die sterrehemel, wanneer jy op die strand staan en luister na die see, of  vanaf ‘n bergpiek die son sien opkom…..

Ek dink dat woorde in my geval meer kragtig is omdat ek ‘n skrywer is.  Ek dink dit is die instrument wat God gereken het die effektiefste sou wees in my geval.  Ek dink God gebruik wat ook al die beste sal werk.

Hoe maak jy jouself ‘oop’ tot God?

Ek wil noem dat ek deesde altyd oop is tot God, veral na my onlangse ervaringe. Ek voel nie dis ‘n situasie van jouself oopmaak vir God nie, maar eerder ‘n situasie van jouself nie ‘toemaak’ vir God nie.  Ek voel permanent oop tot God, en om eerlik te wees, is daar tye wat ek tydelik toemaak vir ‘n oomblik of twee – vir so 15 minute hier en daar, wanneer ek weer vasgevang raak in die illusie van die drama’s van my lewe, en wanneer ek begin glo dat die illusie van my lewe ‘n werklikheid is, wat natuurlik nie die geval is nie.

Soms sluit ek dus myself af van God se teenwoordigheid.  Net vir ‘n kort rukkie. Dan stel ek weer my bewustheid in ten opsigte van die teenwoordigheid van God in my, om my, en deur my.  Al wat gewoonlik vir my nodig is, is om deur die venster te kyk om God te sien, of wanneer ek enige egte emosie ervaar is ek ook bewus van God se teenwoordigheid.  Ook wanneer ek iemand bystaan met hulpvaardige energie.  Ek werk aanhoudend – is altyd besig om aan iets te skryf vir die publiek, of om iemand se vrae aanlyn te beantwoord.  Ek reik uit in die begeerte om ander aan te raak met hierdie kennis.  Wanneer ek ookal met hierdie informasie uitreik na ander, voel ek die heilige teenwoordigheid.

Kan enige iemand homself oopmaak vir God (of verhoed om af te sluit van God) al glo hulle nie in God nie?

Die antwoord is JA.  As jy kan onthou, op bladsy 3 (van 3,000 bladsye van dialoog) sê God: “Ek praat met almal. Die hele tyd. Die vraag is nie met wie dit is waarmee ek praat nie, maar eerder, wie dit is wat luister?”  Enige een kan in aanraking kom met God, of hulle in God glo of nie.  Sodra ‘n persoon asemhaal is hulle inderwaarheid in kontak met God.  Jou blote asemhaling is ‘n verbindtenis met God.  Sodra iemand sy oë oopmaak is daardie persoon in kontak met God, want jy staar reguit na die aangesig van God wanneer jy na die lewe kyk.

Of ‘n persoon bewus is van die konneksie is ‘n ander saak. Maar daar is tye wanneer selfs mense wat nie in God glo nie bewus is van iets wat groter as hulself.  Hulle noem dit dalk nie noodwendig ‘God’ nie, maar hulle is bewus van die teenwoordigheid van iets wat groter as hulle individuele self is.  Daardie wese, daardie ervaring, die gevoel wat hulle beleef, is die gevoel van hul verbindtenis met goddelikheid, of hulle dit so noem of nie.

Hale bopp over woodlands, New Forest - by © Rob Smith

“Daar is tye wanneer selfs mense wat nie in God glo nie, bewus is van iets groter as hulself.” (Foto: 'Hale bopp over woodlands' - Deur © Rob Smith)

Daar is ‘n ou gesegde in Amerika, “’n Roos met enige ander naam, is steeds ‘n roos.” Jy kan deur ‘n tuin loop en die prag van ‘n roos bewonder.  Jy weet dalk nie wat dit genoem word as jy ‘n kind is wat nog nie die naam daarvan geleer het nie, of as jy van ‘n ander land afkomstig is en nie die woord “roos”ken nie.  Dit sal egter nie saak maak nie.  Jy kan dit ‘shmizits’ noem of ‘guako’ of self niks.  Dit is steeds daar, en dit is steeds ‘n roos.

God met enige ander naam is steeds God.  Dit maak nie saak of jy in God glo, of nie. Hy kan nie verdwyn nie.  God is in elke oomblik van jou lewe sigbaar.  Noem dit wat jy wil.  Dit is steeds daar.

Jy het van emosies gepraat as iets wat die mag het om dinge in jou lewe na jou toe aan te trek.  Hoe werk dit?

Emosies is energie in beweging. Wanneer ons energie in beweging bring, is dit soos om ‘n pot te roer.  Dit is soos om die energie van die lewe so te beinvloed dat dit soos ‘n maalkolk begin draai en dinge aantrek.  Dit werk soos ‘n magneet, soos ‘n melkweg wat begin draai en soliede massas aantrek.  Dit is hoe sterrestelsels gevorm word. ‘n Sterrestelsel is ‘n malende kolk van massiewe energie wat uiteindelik materiaal aantrek en materiaal produseer.

Dieselfde ding gebeur met ons op ‘n kleiner skaal. Wanneer ‘n mens aanhoudend dieselfde emosies oor ‘n sekere ding ervaar, begin dit fisies vergestalt.  Dit is deur middel van hierdie proses dat ons fisiese manifestasies skep, negatief sowel as positief.

Dit is waarom mense wat vreedsame emosies beoefen, vreedsame ervaringe aantrek – soos die Buddistiese monnik Thich Nhat Hanh, die Dalai Lama, Paramahansa Yogananda, en Swami Premanada.  Hulle produseer vreedsame energie in ‘n groot verskeidenheid van maniere, nie in die minste nie ook in meditasie.

Ek dink dus dat emosies ‘n kragtige skepper van fisiese vergestaltings is, wat goeie nuus is, omdat emosies iets is waarop ons beheer kan uitoefen en waarmee ons kan skep.  Party mense dink dat hulle nie in staat is daartoe nie, dat hulle hulle afhanklik is van hul emosies.  Maar geestelike meesters verstaan dat emosies skep- en beheerbaar is, en dat wanneer hulle hul emosies skep en beheer, hulle ook in beheer van hul uiterlike omgewing is.  Dit is ‘n geheim wat baie mense nou begin verstaan.  Die fliek en boek “The Secret”vertel ons ook hiervan.

–Do you speak Afrikaans? We need help in getting the rest of the English interview into Afrikaans. We have the interview translated, but need someone to proofread the text. If you have some time to help with this, contact us.

22 July 2011.
© Gil Dekel.

Interview conducted over the phone on 30 Aug 2010. Neale in based in the USA. Dr. Gil Dekel is based in The UK. Conversations with God website…

Translated from the English into Afrikaans by Eugene Pitout, and proofread by Marelize de Beurs, during February-March 2011.